Resep vir die Week
Dik Vis Sop (Chowder)
As jy hierdie winter gelukkig genoeg is om ‘n kabeljoutjie, steenbras of, op sy lekkerste ‘n beenbek te vang, probeer dan gerus hierdie resep in jou driepoot- swartpot op die kole.
500g van enige van die bogenoemde vis
320 ml Melk
Sout en vars gemaalde swartpeper volgens smaak
2 repe spek in blokkies gesny
1 Eetlepel botter
2 medium aartappels in blokkies gesny
2 medium wortels in blokkies gesny
1 medium ui in blokkies gesny
500 ml hoender aftreksel
3 Eetlepels Mielieblom (Masina)
Gekapte vars pietersielie
Braai uie en spek in botter tot goudbruin, skep uie mengsel uit en hou eenkant. Fillet die vis en sny in 25mm x 25mm blokkies. Kook vis vir 10 minute in die helfte van die melk, voeg oorblywende melk by, as ook, aartappels, wortels en hoender aftreksel. Kook stadig totdat die wortels en aartappels sag is. Meng die Mielieblom met ‘n bietjie koue water en voeg by die vis en groente mengsel, kook vir nog 5 minute. Voeg dan die uie en spek mengsel by en warm dit op. Garneer met gekapte pietersielie en bedien.
Wenk: Moenie die kole onder die pot sit nie, versprei dit in ‘n sirkel om die pot.